Geboortedatum : 1974/12/06
Gebore : Kaapstad, Suid-Afrika
Skool : Oral van die Kaap tot Natal en Gauteng
En toe : Drama, Film & Media, Ontwerp, Bemarking studeer
En nou : TV Regisseur, Vervaardiger en Musikant
Ommie potte : Ek kook graag – maar niks is so lekker soos ‘n braai saam met goeie vriende
Wanneer jy nie werk nie : Dan surf ek of speel gholf of kyk iets of lees iets…
 

Al is “Judas en die joker” Leon se debuut album, is hy geen nuweling in die musiek industrie nie. As die voormalige “front man” van die Engelse rock groep “Funky Blue Monkey” het hy die land plat getoer met ‘n verskeidenheid rock vertonings, musiek kabarette en ook sy stem dik gemaak as akteur en sanger in menigde voorste “musicals” by van ons land se top teaters. Hy het ook al verskyn in ‘n reeks televisie advertensies en televisie reekse insluitend die Franse televisie reeks “25 Degrees South”.

Vandat hy kan onthou, was Leon se droom om televisie regisseur en musikant te wees, die droom is vandag waar, want hy doen sy eie oorsproklike musiek en daarby spandeer hy die meeste van sy tyd as televisie regisseur, waar Leon en sy span die meeste van die DSTV televisie kanale ontwerp.
 

Die talentvolle Suid-Afrikaanse TV-regisseur en -vervaardiger Leon Schoeman bewys met sy debuut album dat Afrikaanse musiek met die beste in die wêreld kan meeding. “Judas en die joker” is 'n uitstekende vervaardigde album propvol lekker-luister musiek. Dit is 'n toeganklike album met splinternuwe Afrikaanse liedjies asook 'n paar ou bekendes wat Leon se storie vertel. Die nostalgiese reis neem jou na jou skooldae en na 'n tyd toe jou huis so ver gevoel het. Hierdie album voel soos 'n tuiskoms.

Hierdie album is net die ding vir die derduisende Suid-Afrikaners in London, Perth en Toronto wat 'n straal Suid-Afrikaanse sonskyn mis. Die album is spontaan en strelend en bied in die mooiste, mooiste taal liedjies waarna jy weer en weer sal wil luister.

“Judas en die joker” is sielskos en musiek wat jou so gemaklik laat voel soos 'n ou vriend se geselskap. Dit word hoogs aanbeveel vir Suid-Afrikaners wat hul heil in die buiteland gaan soek het. Die wêreld is deesdae een groot stad en met hierdie album vertel Leon die verhaal van Suid-Afrika waarna so baie mense verlang.

Van die land se beste liedjieskrywers het tot die album bygedra: Koos Kombuis, Harold Schenk, Lize Beekman, Jürgen von Wechmar, Coenie de Villiers en Melissa van der Spuy. Leon se sensitiewe omgang en waardering van die Afrikaanse taal en kultuur is 'n sprekende voorbeeld van sy liefde en hoop vir die land.

Die album is musikale-poskaarte, poskaarte wat deur meesterstorievertellers geskryf is. Met wondermooie snitte soos “Ek mis daai dae vandag” en “Hoe lyk Londen vanaand” sal hierdie album herinneringe in jou losmaak - of jy nou in Suid-Afrika of die buiteland woon.

“Judas en die joker” is op internasionale standaard en is 'n welkome nuweling tot Afrikaanse musiek. Dit is 'n nuwe klank en 'n reis waarvan jy gaan wil deel wees.